Kopiereg: Mamre Genetika. Dr. Karin Wessels – Mamre Genetika

Algemene inligting: Handdekking

Met handdekking word spesifieke ooie met spesifieke ramme onder toesig gepaar. Ooie kan met behulp van sinchronisasie middels op spesifieke dae voorberei word vir handdekking. Dit vergemaklik en vereenvoudig bestuur.

Voordele:

  • Minder ramme word benodig. ‘n Teler kan dus beter kwaliteit ramme aankoop, wat genetiese vordering versnel.
  • Die aankoop, voeding en versorging van minder ramme, verlaag die totale koste per lam.
  • Minder ramme vergemaklik bestuur.
  • Ramme wat swak libido (geslagsdrif) en dekbehendigheid word geïdentifiseer en uitgeskakel.
  • Besering van ramme is minimaal omdat handdekking onder toesig plaasvind.
  • Nageslag van individuele ramme kan met mekaar vergelyk word en die beste vaars word geïdentifiseer.
  • Vergemaklik rekordhouding.

Nadele:

  • Indien ‘n ram tydelik onvrugbaar is of sy semenkwaliteit van lae gehalte is, sal ooie nie beset raak nie. Dit is dus baie belangrik om seker te maak dat ramme se semenkwaliteit vooraf getoets word. Maak ook seker dat ramme dekbehendig is.
  • Indien onbeproefde ramme gebruik word, kan swak kwaliteit lammers aangekry word.
  • Verantwoordelike persoon moet toesig hou en byderhand wees.
  • Waak teen inteling.

Projekplan

Begin voorbereiding van ramme. (1maand voor spons datum.)

Voer ramme 2kg groeikorrels per ram per dag.
Dosseer ramme vir ronde- en neuswurm en ent noodsaaklike entings, spuit spoorelemente en vitamiene.
Indien nodig skeer ramme.

Begin voorbereiding van ooie.(1maand voor spons datum.)

Voer ooie 500g Ooi, Lam en Ram Groeipille/ ooi/ dag
Ontwurm ooie
Ent teen Bloednier en ander Klostridia, Pasteurellose en Corynebakterium,
Ensoötiese Aborsie;
Spuit spoorelemente en Vit
Indien nodig skeer die ooie (jou spesifieke program).

Spons die ooie

Hierdie proses is die hartklop van die projekplan. As jou voorbereiding reg is, en jy die sponsproses noukeurig en so skoon as moontlik doen, om te verseker dat jou ooie wel op hitte kom as hulle moet en die ramme die werk doen, sal hierdie stelsel winsgewend wees.

Alle spons en sinchronisasie toerusting is beskikbaar by RAMSEM in Bloemfontein, en hulle bied ook met tye KI kursusse aan wat baie goed is om by te woon.

Benodigdhede:

  • Emmer met water met ontsmettingsmiddel in;
  • Skoon handdoek;
  • Watte;
  • Sponsies/CIDR’S
  • Toestel om sponsies of CIDR’S in te sit;
  • Antiseptiese room;
  • Skêr;
  • Handskoene;
  • Merk verf.

Proses:

Die spons van die ooie vind altyd in die voormiddag plaas so 08:00 die oggend.

Hierdie is die emmer, met water met F10 ontsmettingsmiddel in, om die toestel skoon te was tussen die ooie, en om die watte nat te maak waarmee die ooitjie skoon gewas word voordat die sponsie ingesit word.

Die Ovakron 40mg Vaginale sponsies.

Hierdie is my skoon handdoek sodat die area waarop my toerusting is so skoon as moontlik gehou kan word in die plaas opset (langs die drukgang met wind en stof!), met my rol watte wat ‘n redelike stuk afgebreek word en goed natgemeek word met die water om die ooitjie eers skoon te was. Antiseptiese room is ook hier, dit word aangewend aan elke sponsie voordat die sponsie ingesit word.

(Die volledige “Spons Tas” is by Mamre Consult beskikbaar 0828541491 )
Natuurlik is jou boek met nommers en datums ook byderhand om aantekeninge te maak van kondisiepunt en algemene voorkoms van die ooitjie, en hoe maklik die sponsie ingesit is.

Nadat die ooitjie met watte skoon gewas is oor die anus en labiale area, word haar stertjie opgetel, die toestel met die sponsie reeds gelaai (die sponsie word in die toestel ingedruk met die toutjies eerste in, sodat wanneer die sponsie in die ooi is, is die toutjies agter na buite) in die dominante hand. Met die nie dominante hand word die labias met die wys en middelvinger oopgemaak om die toestel maklik in te druk. Die hele sponsie is pienk van die room.

Sodra die toestel in die ooitjie se vagina ingedruk is word die toestel eers opwaarts gedruk, en dan oor die ligament na agter, neem kennis van die hoek van die toestel.

Die toestel word nou tot so diep as moontlik in die ooitjie ingedruk.

Die plunger (wit staafie) word vorentoe gedruk om die sponsie uit die toestel te druk, sodat
dit in die ooitjie agter bly. Onthou om nie die toutjies saam uit te trek nie.

Die toestel en die plunger, word nou saam uit getrek, en die sponsie bly agter.

Hier kan slegs die toutjies gesien word, dit word nou aanmekaar geknoop so 3cm lank, en die res van die toutjies word met ‘n skerp skêr afgeknip. Die toutjies moet nie te lank uit hang nie, want die ooitjies trek mekaar se sponsies uit en dit haak en trek uit as dit te lank is.

Hierdie toutjies is geknoop en sy is gemerk, en gereed om die drukgang te verlaat.

Hierdie ooitjies is nou klaar gespons en streep op die neus gemerk. Hulle gaan nou terug na
hulle kampie, waar hulle vir 2 weke bly en dan gaan ons voort met die proses.

Onttrek die sponse

14 dae nadat die sponse in gesit is, moet die ooitjies weer kraal toe kom om die sponsies te onttrek.

Winterprogram: Sponse word onttrek 18:00, en DMS word dadelik met onttrekking diep binnespiers gespuit. Ramme word dan ingesit dag 16 om 06:00 -07:00.

Somerprogram: Sponse word 06:00 onttrek, en DMS word dadelik diepbinnespiers gespuit; Ramme word dan ingesit dag 15 vanaf 16:00.

Hoeveelheid DMS word gespuit op voorskrif van RAMSEM, dit hang af van die grootte van die ooie (ras gekoppel).

Proses: Benodigdhede:

  • Plastieksak vir gebruikte sponsies vir weggooi;
  • Handskoene;
  • Boek met ooi nommers vir aantekeninge, indien sponse verloor het;
  • DMS in koelhouer met akkurate spuit.

Proses van onttrekking:

Plaas ooitjie in drukgang, soek die toutjies van die sponsie (soms is hulle in die vagina, maak labias oop en soek toutjies goed om seker te maak hy het nie uit geval nie.) As die toutjies nie gevind word nie, kan die insit toestel gebruik word om die sponsie eers te soek, voordat jy net aanvaar hy het uitgeval. Maak doodseker dat die sponsie nie binne-in is nie, as jy dit daar los kan jy infeksie veroorsaak en jou ooi verloor. Plaas ‘n spar op die drukgang, tel die agterbene van die ooitjie oor, dat sy hang in die posisie vir KI, plaas die insit toestel in die vagina, en lig met koplig, as die sponsie daar is sal jy die geel baie duidelik sien. Hierdie kan ook met spekulum gedoen word, en dan trek jy die sponsie uit met ‘n tangetjie, wat ook by ramsem beskikbaar is. As jy seker is dat die sponsie uitgeval het, merk die ooitjie, en laat sy dan na die volgende groepie gaan wat gespons moet word.

Trek nou die toutjies afwaarts, totdat die sponsie uit is. Gooi die sponsie weg, sodat ander diere dit nie kan eet nie.

Spuit nou die ooitjie met die regte hoeveelheid DMS diep binnespiers.

Trek eers terug om seker te maak daar is nie bloed nie, moet nie in aar spuit nie.

Groepie ooitjies, sponsie getrek en DMS gespuit, gereed vir die ram om oor 36uur gedek te word.

Theme: Overlay by Kaira
Mamre, Frankfort, Free State,, South Africa
Select your currency
ZAR South African rand